
=====================================================================
Taalslordigheid berokken skade (AV 7:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Taalslordigheid berokken skade

Taalkundiges sal meer leiding moet gee om Afrikaans se agteruitgang teen te werk, s Peter Louw.

IN Die Burger van 28 Jan. 2000 vertel 'n voorste musikant/sanger/liedjieskrywer in 'n onderhoud soos volg oor sy nuwe CD en oor sy lewe: 
"Dis net 'n live CD, met ander woorde dis oorwegend ou songs wat vir die eerste keer live record is. Ons verkoop dit ook net by shows  In 
die nineties was Kurt Cobain dalk my mees enduring invloed  Deesdae luister ek na Gert Vlok Nel in my motor omdat dit al teenvoeter vir 
road rage is as die minibussies my die moer in maak."

'n Goeie onderhoud, lekker geskryf, baie leesbaar, met iemand wie se musiek ek respekteer. Loslit Afrikaans, soos hulle s. En baie mense 
praat so, veral di in die alternatiewe Afrikaanse musiekwreld. Deur jou taal te meng, wys jy dat jy koel is en die engheid en taalpurisme 
van die vorige geslag verwerp. Engels-Afrikaans of Engfrikaans is bevryde Afrikaans, volgens hierdie houding. Dit onderskei jou van diegene 
wat jou onderdruk het met hul rasbeheptheid, godsdienstige dogmatisme, seksuele bekrompenheid en patriargale onverbiddelikheid. Afrikaans 
is dus die simbool van onderdrukkende waardes, en deur dit gedeeltelik deur 'n ander taal te vervang, word simbolies wraak geneem en die 
onderdrukking ondermyn.

Die vraag is in welke mate hierdie gesindheid nog bestaansreg het in die Suid-Afrika van n 1994. In die afgelope jare het van daardie 
kragte waarteen die alternatiewe Afrikaanse jeug in opstand gekom het, merkbaar afgeneem. Die nuwe Grondwet, met sy maatrels teen rassisme 
en geslagsvooroordele, het 'n nuwe moraliteitstandaard geskep wat dit in baie opsigte vir die Afrikaanssprekende makliker maak om sy of 
haar menslikheid ten volle uit te leef. Terselfdertyd bevind hy hom nou in 'n omgewing waar dit vir hom al hoe moeiliker gemaak word om sy 
Afrikaansheid uit te leef.

In die lig hiervan kan 'n mens werklik vra of dit nog sinvol is om in opstand te kom teen waardes wat in elk geval deel van 'n ouer 
denkpatroon is en geleidelik retireer. Meer nog kan gevra word of dit regverdig is om Afrikaans as simbool en teiken vir hierdie ouer 
opstand te gebruik, en of dit nie juis in die kaarte speel van daardie sterk magte in die nuwe bedeling wat Afrikaans sowel as openbare as 
private taal nie goedgesind is nie.

"Maar exaggerate jy nie nou nie?" sal iemand dalk vra. "Almal van ons gebruik mos maar soms 'n Engelse woord. Occasionally kry 'n mens net 
nie die regte Afrikaanse woord nie; soms gee die Engelse woord 'n bepaalde effect, help dit to put your view across. Relax oor die taal, 
man."  My antwoord sal wees: Natuurlik gebruik ons almal soms 'n vreemde woord, veral as 'n Afrikaanse term nie bestaan nie. Kreatiewe en 
selektiewe taalontlening moet altyd verwelkom word. En as dit maar net meer Nguni- of Sothowoorde was wat die taal verryk, sou dit 
wonderlik wees. Die beswaar is nie soseer teen benvloeding deur tale as sodanig nie, maar teen 'n bedreigende en feitlik oorweldigende 
benvloeding deur 'n enkele, magtige taal  Engels.

Maar hier moet 'n mens weer kwalifiseer: ons as 'n taalbeweging is nie as sodanig anti-Engels nie. Engels is vir die Afrikaner 'n magtige 
instrument waarmee hy toegang tot die wreld kry, en is daarbenewens 'n draer van 'n grootse en ryk letterkunde. Hier moet 'n mens 'n 
onderskeid tref tussen taalaggressie en taalhandhawing. Taalaggressie is gemik op 'n ander taal wat as "vyand" gesien word; taalhandhawing 
is die legitieme beskerming van die eie taal.

Die probleem is dat dit nutteloos is om Afrikaans as openbare taal te probeer beskerm indien dit as private taal deur onkunde of 
agtelosigheid geleidelik ondermyn word en aan status verloor, totdat die punt bereik word waar 'n eksterne taalstryd sinloos word omdat die 
taal struktureel reeds half Engels is.

Daar kan min twyfel wees dat sekere vorms van taalslordigheid en vermenging die taal as geheel skade berokken. Wanneer 'n mens in 'n 
Afrikaanse sin praat van "road rage", "songs", "shows", "nineties", "live record" en "enduring invloed", dan word daarmee iets gempliseer, 
nl. (1) dat daar nie Afrikaanse ekwivalente daarvoor is nie, of (2) dat daar wel Afrikaanse ekwivalente is, maar dat jy dit nie ken nie, of 
(3) dat jy om 'n ander rede die Engelse woorde verkies. Punt (2) weerspiel net jou eie individuele onkunde, maar (1) en (3) bring die 
boodskap  ook aan die jeug en tieners, en natuurlik aan anderstaliges  dat die taal ontoereikend is of nie koel en byderwets nie. So 'n 
implisiete boodskap van taalontoereikendheid sal, as dit lank en dikwels genoeg deur genoeg mense oorgedra word, die status van die taal 
ernstig benadeel. En, soos elke taalkundige sal weet, is taalstatus op lang termyn 'n belangrike faktor by die oorlewing van tale.

Afrikaans kan as private taal dus nie as gesoleerd van Afrikaans as openbare taal gesien word nie. Diegene wat Afrikaans as openbare taal 
wil verdedig, sal hul linies wyer moet trek om ook die taal as interne struktuur van woordeskat en grammatika in te sluit. Wie wil per slot 
van rekening 'n taalstryd voer om 'n geradbraakte, verengelste en sterwende "Afrikaans" se dood verder uit te stel? En daarmee sal dit wat 
in die Afrikaanse letterkunde bereik is en ons uniek gemaak het, wat 'n internasionale peil bereik het  die werk van o.a. Eybers, Van Wyk 
Louw, Opperman, Karel Schoeman  ook in die mistigheid van die tyd verdwyn.

Hiermee bepleit ek nie 'n terugkeer na 'n starre en onkundige taalpurisme waar terme van Germaanse oorsprong bo Latynses verkies of 
taalverandering tot elke prys beveg word nie. Ek meen wel dat die laat-maar-gaan-houding oor taalsuiwerheid wat die afgelope dekades 
posgevat en saamgeval het met die deskriptiewe eerder as preskriptiewe benadering by taalkundiges, nie meer in die nuwe situasie van n 
1994 vanpas of gewens is nie. Eerder as om die agteruitgang van Afrikaans klinies-akademies te beskryf, sal Afrikaanse taalkundiges in veel 
groter mate as wat nou die geval is, praktiese leiding moet gee en normatief moet optree om die verval teen te werk.

Bowenal sal nuwe bewusmakingsveldtogte geloods moet word om die gewone Afrikaansgebruiker te laat besef dat die posisie rondom Afrikaans 
heeltemal verander het. 'n Nuwe taalmoraliteit is wat ons nodig het, en die besef dat ons individuele taalgebruik, hoe infinitesimaal ook 
al, nie net 'n persoonlike taaldaad is nie, maar 'n interpersoonlike golfeffek het wat kollektief die hele taalgemeenskap kan bevoordeel  
of skaad. Die taalgebruiker wat sy taal onoordeelkundig deurspek met Engelse woorde en uitdrukkings, sal dalk op kort termyn en vir eie 
gewin 'n paar (gewoonlik goedkoop) effekte behaal. Maar op die duur is daar 'n prys, wat ongelukkig deur die taal self en alle 
medegebruikers betaal word. Peter Louw is 'n taalpraktisyn in Kaapstad.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7214.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 2000 /// Gee kans! Afrikaans se saak groei wreldwyd (AV 7:2) /// 
Trust het miljoene geskenk (AV 7:2) /// Kursus in Afrikaans (AV 7:2) /// Limeriek I (AV 7:2) /// 'Kom ons lees en laat lees' (AV 7:2) /// 
Limeriek II (AV 7:2) /// Vroeg in nuwe eeu (hoofartikel) (AV 7:2) /// In memoriam Ds. Flip van der Westhuizen (AV 7:2) /// Sebrastrepe s 
hul s vir Afrikaans (AV 7:2) /// Oor Afrikaans klap woord en weerwoord (AV 7:2) /// Tyd van liefh het aangebreek (AV 7:2) /// Man met 
swart baret se woorde rinkink (AV 7:2) /// 'Losing my religion' (AV 7:2) /// Taalslordigheid berokken skade (AV 7:2) /// Limeriek III (AV 
7:2) /// 'Etse! Tjeend gaan met grrawater uit!' (AV 7:2) /// Dans uit vergange se dae (AV 7:2) /// Nergensland (AV 7:2) /// Nag vol 
feeste! (AV 7:2) /// Duitser berig in Afrikaans uit Europa (AV 7:2) /// Staande ovasie vir Afrikaans (AV 7:2) /// Duitse toewyding 
toegespits op Afrikaans (AV 7:2) /// Ambassade reik kosbare CD uit (AV 7:2) /// 'Bubbelbad' borrel (AV 7:2) /// Waar's daai gogga? (AV 7:2) 
/// Wind van voor is niks nuuts nie (AV 7:2) /// Afrikaans en die jeug (AV 7:2) /// Hoe praat jy met tieners? (AV 7:2) /// Onthou om nie te 
vergeet nie (AV 7:2)

